Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 24 JUNIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike amateurradiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio, gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan afgelaai word by www.sarl.org.za en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vandag is (Naam, roepsein) op 145,725 MHz FM vanuit Pretoria, met herleidings op 7 066 en 3 695 kHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos nodig)

STIL SLEUTELS

Dit is met spyt dat ons moet bekend maak dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het.

Abe Grové, ZS6BMX, se sleutel het Donderdagnag, na ’n lang siekbed, stil geraak. Hy was 77 jaar oud.

Richard L. (Dick) Baldwin, W1RU, is op Donderdagoggend 21 Junie, oorlede. Hy was 92 jaar oud.

As die American Radio Relay League (ARRL) se Algemene Assistentbestuurder was Dick se primêre verantwoordelikheid om die voorbereidings vir die Wêreld Administratiewe Radiokonferensie in1979 te inisieer. Hy was een van die sleutelfigure in die formulering van doelwitte om nuwe amateurbande in die 10, 18 en 24 MHz bande te bekom. Tussen 1975 en 1982 het hy as Algemene bestuurder, daarin geslaag om hierdie droom ’n werklikheid te maak.

Na sy aftrede by die ARRL is hy verkies tot President van die Internasionale Amateurradiounie (IARU). Die pos het hy 17 jaar beklee. Voor dit (1976 tot 1982) was hy die sekretaris. Hy slaag daarin om die oorgang na ’n nuwe grondwet te bestuur sodat die IARU ’n meer verteenwoordigende liggaam kon word. Na sy aftrede in 1999, het die Raad besluit om hom die Emeritus President te noem. Dick Baldwin was ook ’n groot vriend van Suid-Afrika en het die land dikwels tydens sy ampstermyn besoek.

Ons bied ons innige meegevoel aan die families en vriende van die afgestorwenes.

(POUSE).

IN DIE NUUS VANDAG:

KLUBS BEKOM GRATIS AFFILIASIE BY DIE SARL

RTA IN DURBAN

IARU-HF-KAMPIOENSKAP OP 14 EN 15 Julie

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

KLUBS BEKOM GRATIS AFFILIASIE BY DIE SARL

Die Raad van die SARL het besluit om aan radioklubs in Suid-Afrika, wie se aktiwiteite die SARL se visie en die doelwitte van amateurradio ondersteun, gratis affiliasie aan te bied. Om daarvoor aansoek te doen, moet klubs die standaard lidmaatskapvorm voltooi. ‘n Kopie van hulle grondwet, ’n lys met volledige inligting oor die komiteelede en ’n kort verslag oor die klub se amateurradiogerigte aktiwiteite, moet ingesluit word. Dit kan ’n voorsittersverslag of ’n nuusbrief wees.

Indien hulle reeds die fooie vir 2012/2013 betaal het, sal dit terugbetaal word.

RTA IN DURBAN

Die eerste Radio Tegnologie in Aksie (RTA) van 2012 sal op Saterdag 21 Julie in Durban by die Universiteit van KwaZulu-Natal gehou word. Die program verskil nogal heelwat van die van vorige jare en ’n aantal nuwighede kan te wagte wees.

Die treffer genaamd "Tuning into Nature" gaan deur Tony Voorveld, ZS6CCD, aangebied word. Verskeie elektromagnetiese verskynsels in die natuur word behandel. Tony sal met demonstrasies en bespreking verduidelik hoe sonuitbarstings, kosmiese strale en weerlig deur amateurradio en amateur wetenskaplike toerusting waargeneem kan word. Hy sal ook radio-astronomie vir die amateur bespreek. As jy Tony voorheen in aksie gesien het, weet jy dat jy dit nie wil misloop nie. Ander moet seker maak dat hulle vanjaar teenwoordig is.

Die openingstoespraak gaan deur die SARL se president, Rassie Erasmus, ZS1YT, gelewer word. Hy sal praat oor hoe radioamateurs kan bydra tot die ontwikkeling van kennisekonomie in Suid-Afrika.

Dan kom ons by die praktiese sy van die simposium. Frik Wolff, ZS6FZ, gaan die bou en werking van programmatuur gedrewe 40 meter radio demonstreer. ’n Boustel met komponente sal by die RTA teen R100,00 te koop wees.

Riaan Greeff, ZS4PR, gaan praat en ‘n demonstrasie lewer oor hoe om Hamradio Deluxe met radiotoerusting en antenna-roteerders te versoen. Hy gaan op die praktiese kant konsentreer en sal verskeie modelle gebruik om die werking te verduidelik.

Daar sal ook ’n aanbieding wees oor hoe om logprogramme te installeer en te gebruik.

Almal wat die RTA bygewoon het, sal ’n laserskyf ontvang met al die programme wat aangebied is op. Tuis kan jy dan lekker verder gaan speel.

Volledige inligting oor die RTA-program, sal teen vroeg volgende week beskikbaar wees by www.sarl.org.za. Intussen, as jy in KwaZulu-Natal woon, onthou Saterdag 21 Julie. Verder, as jy in die Durban-omgewing woon, reël met klublede om saam te ry.

SKA INTEGNET WAS ’n POPULÊRE KEUSE

Die Integnet van verlede Sondag met Prof. Justin Jonas as spreker oor die “Square Kilometer Area” (SKA), was baie populêr by die sowel die spreker as by die gehoor. Prof Jonas sê hy het veral die vrae van luisteraars geniet. Was, was verfrissend om met mense gesels wat ’n goeie begrip van tegnologie het. Hy het voorts gesê: “ Ek het notas van die vrae gemaak, want dit gaan ’n uitstekende hulpbron wees by toekomstige praatjies wat ek moet hou”.

Die SARL het verskeie versoeke gekry vir ’n oudio-lêer wat afgelaai kan word.

’n Geredigeerde weergawe sal vandag op www.sarl.org.za beskikbaar wees.

Daar gaan gepoog word om Adrian Tiplady van die SKA-projek as gasspreker by die volgende Integnet te kry. Hy sal dan praat oor die demping van radiosteurings op die SKA-perseel en hoe radio- en TV-dienste aan die omliggende inwoners verskaf gaan word. Hou SARL-NUUS dop vir meer inligting.

IARU-KAMPIOENSKAP OP 14 EN 15 JULIE

Die Internasionale Amateurradio Unie (IARU) borg die Hoë Frekwensie (HF) kampioenskap vir 2012. Dit begin op Saterdag 14 Julie om 12:00 UTC en eindig op Sondag die 15de om 12:00 UTC. Die 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meterbande sal gebruik word. Die doelwit is om met soveel moontlik amateurs oor die wêreld kontak te maak, maar veral met die ledevereniging van die IARU-hoofkantoor-stasies. Vanjaar se reëls is beskikbaar by tinyurl.com/iaru-hf-championship.

Die SARL wil graag hulle stasie by die NARS op die lug plaas en is op soek na vrywilligers om die stasie vir die volle tyd te beman. Dit kan ’n uitstekende geleentheid vir ervare manne wees om aan nuwelinge te toon hoe opwindend kompetisies kan wees. As jy sou belangstel, laat hoor hierdie week van jou by contest@sarl.org.za en jy sal geskakel word.

JASME-STIGTING SE AANKONDIGINGS

Toekennings en ’n uitgebreide lys van toepaslike roepseine.

Die YASME-stigting bied tans twee toekennings aan. Die “Yasme Award”, in die vorm van ’n oulike plakkaat, word aangebied aan radioamateurs, wat bewys kan lewer van 30 kontakte met Yasme-amptenare en ’n DX-uitstappie, waaraan minstens een Yasme-amptenaar deelgeneem het.

Die “Yasme Supreme Award” word aangebied as ’n weergawe van die YASME-boot waarmee Danny Weil op sy om-die-wêreld DX-uitstappies was. Radioamateurs, wat bewys kan lewer van 60 kontakte met Yasme-amptenare en ’n DX-uitstappie, waaraan minstens een Yasme-amptenaar deelgeneem het, kwalifiseer daarvoor. Hierdie toekennings is gratis beskikbaar. Na jarelange evaluering van die reëls, het die Raad van Yasme besluit dit te wysig vir die roepseine, wat vir die twee toekennings in aanmerking kom, en baie roepseine is tot die lys toegevoeg.

Die Yasme-stigting is ’n nie-winsgewende korporasie, ge-organiseerd om wetenskaplike en opvoedkundige projekte te onderneem verwant aan amateurradio insluitende DX-werking en die bevordering van amateurradio in onderontwikkelde lande. Meer inligting is beskikbaar by www.yasme.org.

Danny Weil was ‘n pionier van wat vandag as DX-uitstappe bekend staan. Nie as die eerste DXpedisie nie, maar was hy een van die eerstes wat van plek tot plek gereis het om ’n stasie te bedryf. Hy was dikwels alleen op ’n seilskip met honderde kilogramme se radio-toerusting – veral om ’n DX-jagter daardie “nuwe een” te verskaf.

Lloyd en Iris Colvin het die DX-uitstappe vervolmaak en het dit in die 1970’s en -80’s in die moderne tyd in gedra. Hulle het uit meer as 100 lande met gesofistikeerde amateurradiotoerusting ge-opereer en van moderne vervoermiddele gebruik gemaak. Lloyd en Iris het ook verskeie kere as gaste van die SARL, vanaf die Johannesburg Amateur Radio Sentrum ge-opereer, toe dit nog in Louis Bothalaan was.

YASME is die naam van Danny Weil se boot sowel as die nie-winsgewende organisasie, wat in 1959 gestig is om Danny, die Colvins en ander se toere finansieel en logisties te ondersteun.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Sonvlek1 504 is besig om weg van die aarde af te draai en daar is tans net 'n paar kleinerige sonvlekke sigbaar.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 47.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die laer sonaktiwiteit gaan 10 m openinge skaars wees en dit sal meestal op Oos-Wes paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
14/15 Julie – IARU HF-kampioenskap, reëls beskikbaar van tinyurl.com/iaru-hf-championship.
21 Julie – RTA in Durban, program by www.sarl.org.za vroeg volgende week.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies, waarin radioamateurs en kortgolfluisteraars sal belangstel, in te stuur na www.sarl.org.za/newsinbox.asp Stuur dit - indien moontlik - in Engels sowel as Afrikaans, nie later as die Donderdag voor die uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Today", wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending deur Dick ZS6RO. Besoek www.sarl.org.za vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS. Klik op 'Amateur Radio Today', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings wat nie op amateurfrekwensies uitgesaai word.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Flip Britz, ZS4GE/6, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003